135 is ’n filmformaat vir fotografie. Die film kom in ’n kasset voor, is 35 mm breed en word in 35 mm-kameras gebruik.
Die term 135 (ISO 1007) is in 1934 deur Kodak ingestel[1] as ’n naam vir die kasset vir 35 mm-film. Dit het teen die laat 1960's gewilder geword as die 120-film van vroeër.
Ondanks die mededinging van ander formate soos 828, 126 en 110, is dit steeds die gewildste. Die grootte van die 135-filmraampie is deur baie moderne digitale enkellens-reflekskameras aangeneem.