Andreas Daniel Wynand Wolmarans (noemnaam Danie, plaas Stompoorfontein, distrik Potchefstroom, Transvaal, 19 September 1857 – plaas Leeufontein, distrik Potchefstroom, 12 Julie 1928, Suid-Afrika) was ’n Transvaalse politikus, Unie-senator en vooraanstaande lid van die Nederduitsch Hervormde Kerk (NH Kerk).
Hy was 'n stukrag van die prokurasiekommissie wat gesorg het dat al die kerklike eiendom wat voor die vereniging van 1885 aan die NH Kerk behoort het, nie in die naam van die Verenigde (NH of G Kerk) oorgedra word nie. Hy was jare lank Volksraadslid van Transvaal, van 1907 tot 1910 lid van Transvaal se Hoër Huis en ná 1910 lid van die Unie-senaat.