Aboe Simbel-tempels | ||
Die Groot Tempel van Ramses II is links en die Klein Tempel van Nefertari regs. | ||
Koördinate | 22°20′13″N 31°37′32″O / 22.33694°N 31.62556°O | |
Land | Egipte | |
Soort | Tempels | |
Geskiedenis | ||
Bouer | Ramses II | |
Gestig | Omstreeks 1264 v.C. | |
Tydperk | Nuwe Ryk | |
Unesco-wêrelderfenisgebied | ||
Tipe | Kultureel | |
Kriteria | i, iii, vi | |
Verwysing | 88 | |
Streek† | Arabiese State | |
Beskrywing* | Nubian Monuments from Abu Simbel to Philae | |
† Streek soos deur Unesco geklassifiseer. * Naam soos op die Wêrelderfenislys |
Die Aboe Simbel-tempels is twee enorme rotstempels in Aboe Simbel (Arabies: أبو سمبل) in Nubië, Suid-Egipte. Hulle is geleë op die westeroewer van die Nassermeer, sowat 230 km suidwes van Aswan. Die kompleks is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied bekend as die Nubiese monumente[1] wat strek van Aboe Simbel tot by Philae.
Die twee tempels is aanvanklik in die 13de eeu v.C. uit die rots gekap tydens die bewind van farao Ramses II as ’n monument vir hom en sy koningin, Nefertari, om sy beweerde oorwinning by die Slag van Kadesj te gedenk. Die kompleks is egter in 1968 in sy geheel verskuif na ’n kunsmatige heuwel. Dit was nodig om te voorkom dat dit oorvloei word tydens die skepping van die Nassermeer, die groot kunsmatige reservoir van die Aswandam in die Nylrivier.