Die aanvalle op die Saoedi-Aramco-olieproduksiefasiliteite by Abqaiq en Khurais in die ooste van Saoedi-Arabië het op 14 September 2019 plaasgevind. Hommeltuie en kruisermissiele is in die aanval gebruik. Die Houthi-beweging in Jemen het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar, hoewel die Verenigde State beweer het dat Iran agter die aanval was. Die aanval is deel van die gebeure rondom die Saoedi-Arabiese ingryping in die Jemenitiese Burgeroorlog.[1]
Die aanval het omvangryke brande by die aanlegte veroorsaak wat volgens die Saoedi-Arabiese ministerie van binnelandse sake enkele ure later geblus is. Albei fasiliteite sal egter gesluit bly totdat herstelwerk gedoen is, wat die olieproduksie van Saoedi-Arabië met ongeveer die helfte verminder het. Dit verteenwoordig ongeveer 5% van die wêreldwye olieproduksie. Dit het 'n mate van destabilisering van die wêreldwye finansiële markte veroorsaak.