Abraham Kuyper | |
Eerste Minister van Nederland
| |
Ampstermyn 1 Augustus 1901 – 17 Augustus 1905 | |
Monarg | Wilhelmina |
---|---|
Voorafgegaan deur | Nicolaas Pierson |
Opgevolg deur | Theo de Meester |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 29 Oktober 1837 Maassluis, Nederland |
Sterf | 8 November 1920 (op 83) Den Haag, Nederland |
Politieke party | Anti-Revolusionêre Party |
Eggenoot/-note | Johanna Hendrika Schaay |
Alma mater | Universiteit van Leiden |
Religie | Hervormde Protestant |
Handtekening |
Abraham Kuyper (ook geskryf as Kuijper) (*29 Oktober 1837, Maassluis - †8 November 1920, Den Haag) was ’n Nederlandse politikus, joernalis, staatsman en teoloog.
Kuyper was die stigter van die Anti-Revolusionêre Party en die stigter van die Vrije Universiteit. Hy het ook bygedra tot die vorming van die Gereformeerde Kerke in Nederland, aan die vernuwing van die Calvinisme en was van 1901 tot 1905 Eerste Minister van Nederland.
Kuyper het die voorman en woordvoerder van die ortodokse vleuel van die Nederlandse protestantisme geword maar die ‘etiese’ en die ‘bevindelike’ gereformeerdes het hulle nie agter hom geskaar nie. Onder sy leiding het die Gereformeerdes baie invloedryk geword sowel in die Nederlandse Hervormde Kerk (na 1892 in hul eie Gereformeerde Kerk) as in die politiek, wat albei in daardie tyd deur die liberales beheer is.
Vir sy ondersteuners, ’n volksdeel wat ook die kleine luyden (eenvoudige mense) genoem is, was Kuyper die gevierde leier. Sy teenstanders op kerklike gebied was veral die moderne-protestante, terwyl hy in die politiek veral teen die liberales en later ook die sosialiste geveg het. Daar is gesê dat Kuyper een hand na die rykes en die ander hand na die armes uitgereik het.
Hy het sy politieke bondgenote in ander Christelike partye gevind, waaronder die Rooms-Katolieke gereken is. Vir die politieke teenstelling tussen Christene en nie-Christene het Kuyper die begrip antitese ontwikkel.
Kuyper se joernalistieke bydra verdien in besonder om vermeld te word. Vir etlike jare was Kuyper hoofredakteur van 'n kerklike (De Herhaut) en 'n politieke (De Standaard) tydskrif.
Sy nagedagtenis bly voortleef binne en buite Nederland. In 2004 is hy genomineer vir die verkiesing van die grootste Nederlander.