Adam Small | |
---|---|
Gebore | Adam Small 21 Desember 1936 Wellington |
Sterf | 25 Junie 2016 Kaapstad |
Titel | Skrywer |
Eggenoot | Julia Anne Elizabeth Engelbrecht Rosalie Joan Daniels |
Kinders | Jannie en Leon Zaidee en Peter John |
Adam Small (Wellington, 21 Desember 1936 - Kaapstad, 25 Junie 2016) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer en een van die belangrikste Afrikaanse verteenwoordigers van die Swartbewussynsbeweging. Small het veral bekend geword deur sy gedigte en toneelstukke. Adam Small, Afrikaanse digter, dramaturg en akademikus, is veral bekend om sy aktualiteitspoësie en die belangrike drama Kanna hy kô hystoe.
Sy werk verteenwoordig die Bruinmense se protes teen en bitterheid oor diskriminasie. Tot sy negende jaar het hy in Goree in die distrik Robertson gewoon waarna hy en sy familie na Heathfield, Kaapstad, verhuis het. Hoewel sy laerskoolopleiding gereformeerd was, het hy hom aangetrokke gevoel tot die simbolisme van die Rooms-Katolieke geloof. Hy het later ook aan 'n Katolieke skool gematrikuleer.
In sy literêre werk stel hy die agterstelling van bruinmense onder die apartheidsbewind sentraal, maar ook die kloof wat as gevolg van rasseskeiding tussen die verskillende Afrikaanstalige gemeenskappe ontstaan het. Ander belangrike onderwerpe is filosofiese vraagstukke soos materialisme en die holheid van kapitalistiese en rewolusionêre ideologieë.
Adam Small is ook een van die belangrikste Bruin skrywers, wat Afrikaans – en ook sy Kaapse variant – as bevrydingstaal gebruik. Hy word in 2012 bekroon met die Hertzogprys vir sy drama oeuvre tot en met 1983.
Hoewel nuus van die bekroning gunstig deur die skrywersgemeenskap en publiek ontvang is, het dit ook kontroversie ontlok aangesien die SA Akademie met die toekenning van die prys aan Small sy eie reglement oortree het wat bepaal dat die prys slegs binne 'n betrokke genre toegeken mag word mits die skrywer in die voorafgaande drie jaar nuwe en beduidende werk binne die betrokke genre gepubliseer het.[1]