Adriaen van der Stel | |
2de Goewerneur van Nederlands-Mauritius
| |
Ampstermyn 7 November 1639 – 1645 | |
Voorafgegaan deur | Cornelis Gooyer |
---|---|
Opgevolg deur | Jacob van der Meersch |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | Januarie 1605 Dordrecht, Nederland |
Sterf | 25 Mei 1646 Ceylon |
Eggenoot/-note | Maria Lievens (1639–1646; sy dood) |
Kind(ers) | Simon van der Stel |
Adriaen van der Stel of Adriaan van der Stel, ook Ariën gespel (Januarie 1605, Dordrecht, Nederland – Ceylon, 25 Mei 1646), was in diens van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie en het tussen 1639 en 1645 as kommandeur (of opperhoof) van die eiland Mauritius gedien. Die vulkaniese eiland in die Indiese Oseaan was 'n belangrike ankerplek vir skepe van die VOC, waar varswater en voedselvoorrade aangevul kon word.
In 1623 het Adriaen van der Stel sy diens op die skip De Star beëindig en "adjunkassistent" in Indië geword. Ná die uitloop van sy verdrag het hy hom as 'n vryburger en 'n privaathandelaar in Batavia, Nederlands-Indië, gevestig.[1]
In 1638 het die VOC besluit om die eiland Mauritius te koloniseer en 'n goewerneur vir die eiland te benoem, om te verhoed dat die Engelse of die Franse die eiland kon beset.[2] Cornelius Gooyer het binne enkele maande 'n fort met 'n bemanning van 24 soldate laat oprig. Ná 'n jaar het hy homself laat oorplaas en is deur Adriaan van der Stel opgevolg.
Van der Stel is op 24 Maart 1639 in Batavia met Maria Lievens, deels van Maleise afkoms, getroud.[3] Volgens ander bronne was sy vrou afkomstig uit Goa en 'n nasaat van 'n bevryde slavin.[4] Hy het op 8 November 1639 aan boord van die skip de Kappel die hawe van Warwijck bereik. Op pad is sy seun Simon van der Stel gebore.
Gedurende sy eerste jaar het hy die Fort Frederik Hendrik laat opknap en met 14 kanonne bewapen. Die ruïne van die fort is nog 'n duidelike teken van die Nederlandse teenwoordigheid op die eiland. Van der Stel het die garnisoen tot 80 soldate uitgebrei, deels met invalle van die Soenda-eilande.[5]
In 1641 het hy opdrag gekry om ebbehout uit te voer. In verband daarmee of met die aanplanting van groentes en vrugte het Van der Stel in 'n poging om die tekort aan mannekrag op die eiland op te los in 1642 105 slawe van Madagaskar laat invoer.[6] Die helfte van die slawe het binne een week na die binneland gevlug. Van der Stel het meer sukses met die invoer van herte, Cervus timorensis, en die aanplanting van suikerriet gehad; laasgenoemde is nog steeds die belangrikste handelsgewas op die eiland.[7]
In Oktober 1643 besoek Abel Tasman met 'n moeilike versoek vanuit Batavia Mauritius. Aan die bemanning moes goeie kos en drank gegee word (vir 'n maksimum van 16 dae) en die twee skepe moes ook genoeg water, brandhout en voedsel vir 'n baie lang reis aan boord neem. In Mauritius was daar blykbaar verskeie gebreke aan die skepe, sodat die verblyf langer geduur het as beplan. Van die goewerneur het Tasman (Portugese) seekaarte saamgeneem, wat met 'n gunstige wind ooswaarts moes vaar om die geheimsinnige Terra Australis te probeer vind.[8]
Van der Stel het opdrag gekry om die landbou op Mauritius te ontwikkel, maar hy het veral met rotte, droogte ens. te kampe gehad.[9] Na bewering het die besetting van die eiland die jaar 1644 deur visvang en jag oorleef.[10]
Van der Stel is na Ceylon oorgeplaas, waar hy bevelvoerder van 'n klein leër geword het. Hy is tydens 'n skermutseling met die troepe van die gewraakte Rajasinha II van Kandy onthoof. Sy kop is op 'n paal rondgedra en toe vir die goewerneur van Ceylon gestuur.[11][1].[12]
Sy seun Simon van der Stel sou bekend word as kommandeur en tweede goewerneur van die Nederlandse Kaapkolonie aan die Kaap die Goeie Hoop,[13] net soos sy kleinseun Willem Adriaan van der Stel.
Van der Stel is in Nederlands-Mauritius opgevolg deur Jacob van der Meersch, wat hom op die uitvoer van ebbehout toegespits het.