Afardriehoek

Die ligging van die Afardriehoek (in donkerpienk) en die gebiede van die Oos-Afrikaanse Skeur; rooi driehoeke is histories aktiewe vulkane.
’n Topografiese kaart wat die Afardriehoek wys – dit stem ooreen met die donkerpienk driehoek op die boonste kaart.

Die Afardriehoek (ook genoem die Afardepressie) is ’n geografiese depressie wat veroorsaak word deur die Afro-Arabiese Skeur in Oos-Afrika, wat deel is van die Oos-Afrikaanse Skeur. Fossiele van die heel vroegste lede van Hominini, dus van die menslike klade, is hier ontdek; daarom beskou sommige paleontoloë dit as die wieg van die evolusie van die mens. Fossiele van verskeie soorte flora en ander fauna is ook hier ontdek.

Die depressie strek oor die grense van Eritrea, Djiboeti en die hele Afarstreek van Ethiopië. Dit sluit die laagste punt in Afrika, die Assalmeer in Djiboeti, in – dit is 155 m onder die seevlak.

Die Awashrivier sorg vir die invloei van die meeste water na die streek, maar dit droog op tydens die jaarlikse droë seisoen en word ’n ketting soutmere. Die noordelike deel van die Afardriehoek is ook bekend as die Danakildepressie. Die laaglande word geraak deur hitte, droogtes en minimale lugsirkulasie, en bevat die warmste plekke op aarde volgens jaarlikse gemiddelde temperature.

Die Afardriehoek word begrens deur die Ethiopiese Plato en Platorand in die weste; die Danakilblok in die noordooste (tussen dit en die Rooisee); die Somaliese Plato en Platorand in die suide; en die Ali-Sabiehblok in die suidooste.[1]

  1. "Geology of the Afar Depression" (in Engels). Afar Rift Consortium. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Januarie 2019. Besoek op 27 Oktober 2013.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne