Die Afrikaanse letterkunde het geleidelik vanaf 6 April 1652 met die aankoms van Jan van Riebeeck in Tafelbaai ontwikkel toe die Kaapse vorm van Nederlands al verder en verder van die Standaardnederlands begin ontwikkel het. Hoewel 'n aantal tekste reeds spore van "Kaaps-Hollands" vertoon het, neem die moderne Afrikaanse letterkunde 'n aanvang met die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875.