Ai was die tweede laaste farao van die 18de Dinastie van Antieke Egipte. Hy het net sowat vier jaar regeer (moontlik 1323-1319 v.C.[1] of 1327-1323 v.C.), hoewel hy ’n raadgewer vir twee of miskien drie van die farao's voor hom was. Hy was glo die mag agter die bewind van Toetankamen.
Ai se praenomen, of troonnaam, was Chepercheperoere ("Ewigdurend is die Manifestasies van Ra"), terwyl sy geboortenaam Ay it-netjer ("Ai, Vader van die God") was.[2] Daar is min rekords en monumente wat aan Ai verbind kan word – nie net omdat hy kort regeer het nie, maar ook omdat sy opvolger, Horemheb, ’n veldtog gevoer het om herinneringe aan hom en die ander farao's van die ongewilde Amarna-tydperk uit te wis.
- ↑ Erik Hornung, Rolf Krauss & David Warburton (editors), Ancient Egyptian Chronology (Handbook of Oriental Studies), Brill: 2006, bl. 493
- ↑ Peter Clayton, Chronicle of the Pharaohs, Thames & Hudson Ltd, 1994. bl. 136