Aleksander Poesjkin | |
---|---|
Portret van Aleksander Poesjkin deur Wasilij Tropinin | |
Gebore | Aleksander Sergejewitsj Poesjkin 6 Junie 1799 |
Sterf | 10 Februarie 1837 (op 37) Sint Petersburg, Russiese Ryk |
Nasionaliteit | Rusland |
Beroep | Digter, romanskrywer, dramaturg |
Bekend vir | Eugene Onegin, Die Kaptein se Dogter, Boris Godoenof, Roeslan en Ljoedmila |
Eggenoot | Natalja Poesjkina (1831–1837) |
Kinders | Aleksander, Grigori, Maria en Natalja |
Ouer(s) | Sergei Lwowitsj Poesjkin Nadezjda Ossipowna Gannibal |
Handtekening | |
Aleksander Sergejewitsj Póésjkin (Russies: Александр Серге́евич Пу́шкин ), wetenskaplike transliterasie: Aleksandr Sergeevič Puškin; 6 Junie [O.S. 26 Mei] 1799 tot 10 Februarie [O.S. 29 Januarie] 1837), was ’n Russiese Romantieke skrywer wat beskou word as die grootste Russiese digter [1][2][3][4] en die vader van moderne Russies.[5][6]
Hy het voorbrand gemaak vir die gebruik van omgangstaal in sy gedigte en toneelstukke en so ’n storie-styl – drama, romanse en satire gemeng – geskep wat sedertdien met die Russiese letterkunde verbind word en wat ’n groot invloed op latere Russiese skrywers gehad het.
Poesjkin is in Moskou gebore en het op 15-jarige ouderdom sy eerste gedig gepubliseer. Hy is wyd in die letterkundige wêreld erken teen die tyd dat hy aan die Keiserlike Liseum in Tsarskoje Selo gegradueer het. Hy het sosiale hervorming voorgestaan en het in die vroeë 1820's met die regering gebots. Daarvoor is hy na Suid-Rusland verban. Terwyl hy streng deur regeringsensors dopgehou is en nie toegelaat is om te reis en te skryf soos hy wou nie, het hy sy beroemdste toneelstuk, die drama Boris Godoenof, geskryf, maar hy kon dit eers jare later publiseer. Sy rymroman Eugene Onegin het van 1825 tot 1832 in dele verskyn.
Poesjkin en sy vrou, Natalja Nikolajewna Gontsjarow, met wie hy in 1831 getroud is, het later in hoë sosiale kringe beweeg. In 1837, terwyl sy skuld al hoe groter geword het te midde van gerugte dat sy vrou ’n buite-egtelike verhouding het, het Poesjin haar vermeende minnaar, Georges d'Anthès, tot ’n tweegeveg uitgedaag. Poesjkin is noodlottig gewond en het twee dae later gesterf.