Die Amerikaanse Instituut in Taiwan (AIT) (Engels: American Institute in Taiwan) funksioneer as die Verenigde State se de facto-ambassade in die Republiek China (dikwels ook Taiwan genoem). Die AIT is gestig nadat die Verenigde State in 1979 diplomatieke betrekkinge met die Volksrepubliek China gesluit het. As gevolg van hulle Een-China-beleid erken die VSA nie meer die Republiek China amptelik nie, sodat geen werklike ambassade in die hoofstad Taipei geopen kan word nie.
Die Republiek China word in die VSA op 'n vergelykbare manier deur die Ekonomiese en Kulturele Verteenwoordigende Kantoor van Taipei verteenwoordig.
Die Amerikaanse Instituut in Taiwan is as 'n nominaal private organisasie gestig, maar word nogtans toegelaat om dieselfde funksies soos 'n amptelike ambassade te vervul, waaronder die uitreiking van visums en paspoorte. Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake (United States Department of State) verskaf volgens 'n kontrak met die AIT die grootste deel van sy begroting en vervul ook 'n raadgewende funksie.
Die AIT beskik oor 'n klein kantoor in Arlington (Virginia), wat as sy hoofkwartier dien. Sy grootste kantoor lê in Taipei (Republiek China). Daarnaas beskik die AIT ook oor 'n klein takkantoor in die suidelike hawestad Kaohsiung. Na hierdie kantore word verwys as die AIT/Washington (AIT/W), AIT/Taipei (AIT/T) en AIT/Kaohsiung (AIT/K). Die direkteur van AIT/T neem die funksies van 'n ambassadeur waar. Die direkteur van AIT/T is Brent Christensen (sedert 2018), die besturende direkteur van AIT/W is John J. Norris jr., en die voorsitter van AIT is James F. Moriarty.