Andrea Camilleri

Andrea Camilleri
Andrea Camilleri in 2010
Gebore6 September 1925
Sterf17 Julie 2019 (op 93)
Rome, Italië
NasionaliteitVlag van Italië Italië
BeroepSkrywer, regisseur, dosent
Bekend virCommissario Montalbano-romanreeks
EggenootRosetta Dello Siesto (∞ 1957)[1]
KindersAndreina, Elisabetta en Mariolina
Handtekening

Andrea Camilleri (* 6 September 1925 in Porto Empedocle, Sisilië; † 17 Julie 2019 in Rome) was 'n Italiaanse roman-, draaiboek- en toneelskrywer, teater- en televisieregisseur en dosent in regie aan die Accademia Nazionale d’Arte Drammatica in Rome wat internasionale bekendheid verwerf het met sy misdaadromans rondom die Sisiliaanse Commissario Montalbano wat hy na die Spaanse skrywer Manuel Vázquez Montalbán genoem het en vir wie hy ook enkele karaktertrekke van Montalbán se eie fynproewer-speurder Pepe Carvalho oorgeneem het.[2]

Luca Zingaretti en Peppino Mazzotta in die Commissario Montalbano-aflewering Il ladro di merendine (RAI 1999)
Kopiereg voorbehou buite Italië

Die Montalbano-romanreeks, wat op Camilleri se geboorte-eiland in die fiktiewe nedersetting Vigàta afspeel en - ondanks die streng narratiewe lyne wat gevolg word - bont en kleurryk soos 'n kaleidoskoop bly en 'n verskeidenheid fasette van die Sisiliaanse leefstyl weerspieël, insluitende die leksikale en sintaktiese besonderhede van die plaaslike dialek wat, alhoewel dit vir ander Italianers dikwels moeilik verstaanbaar is, ook ingang tot die romantekste gevind het (en - met verklarende notas - gewoonlik onvertaal oorgeneem word in buitelandse vertalings daarvan), is in 'n dertigtal ander tale vertaal en deur die openbare uitsaaier RAI 1 vir televisie bewerk - met Luca Zingaretti as Commissario Montalbano. Die reeks is aangevul deur enkele kortverhale en een begeleidende boek.

Naas die Montalbano-reeks het uit Camilleri se pen ook 'n groot verskeidenheid ander romans en verhale, dikwels met historiese onderwerpe, gedigte en essays asook toneelstukke gekom. Vir die laasgenoemdes het hy self die regie behartig. Sy omvattende opleiding word eweneens weerspieël in sy honderdtal werke wat van Camilleri een van die mees gelese skrywers in Italië gemaak het. Die Sisiliaanse tonele, waar sy romans afspeel, het tot gewilde toeristetrekpleisters ontwikkel.

As een van Italië se kritiese stemme aan die linkse kant van die politieke spektrum het Andrea Camilleri steeds weer politieke en maatskaplike kwessies soos korrupsie en georganiseerde misdaad getematiseer en aktief deelgeneem aan openbare debatvoering. Hier het die politieke sukses van die vroeër uitsluitlik Noord-Italiaanse party Lega in heel Italië net soos sy leier Matteo Salvini welkome afwisseling gebied.

  1. Il Sussidario.net, 18 Junie 2019: Rosetta Dello Siesto, moglie Andrea Camilleri/ “Mi disse, ‘tu non sei uno scrittore'”. Besoek op 17 Julie 2019
  2. The Guardian, 17 Julie 2019: Andrea Camilleri obituary. Besoek op 17 Julie 2019

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne