Ds. Andrew Murray (Aberdeenshire, 26 Mei 1794 - Graaff-Reinet, 24 Junie 1866) was een van die eerste Skotse predikante wat goewerneur lord Charles Somerset na Suid-Afrika laat kom het om enersyds die tekort aan predikante te help verlig maar andersyds veral lidmate van die Nederduitse Gereformeerde Kerk te help verengels. Hy was ook die vader van vyf seuns wat almal predikant geword het, onder wie dr. Andrew Murray en prof. John Murray, en die stamvader van die Murray-familie onder wie tallose predikante en sendelinge tel.
Murray kry sy teologiese opleiding aan die universiteit in sy geboortestad Aberdeen. In 1822 kom hy na die Kaapkolonie en word predikant van die NG gemeente Graaff-Reinet. Hy trou op 31-jarige leeftyd met die 16-jarige Maria Susanna Magdalena Stegmann (1809 - 1889), suster van die Lutherse en daarna NG predikant aan die Kaap, ds. Georg Stegmann. Murray arbei van 1822 tot sy aftrede in 1866 op Graaff-Reinet. Van Maart tot Mei 1848 besoek ds. Murray saam met ds. P.K. Albertyn en ouderling Barend Pienaar van Richmond as eerste afvaardiging van die Kaapse Sinode hul geloofsgenote in Transoranje en ook op Mooirivierdorp (Potchefstroom), waar die Evangelie toe vir die eerste keer deur leraars van die NG Kerk verkondig word. Op die terugreis word daar by Sannasdorp 'n gemeente gestig (NG gemeente Fauresmith) en op die hele tog 800 kinders gedoop.
Sy seun Charles (1833 - 1904) volg hom op. Die pastorie op Graaff-Reinet is die geskiedkundige gedenkwaardigheid Reinet-huis.