Anne Barnard | |
---|---|
Gebore | 12 Desember 1750 Balcarres House, Skotland |
Sterf | 6 Mei 1825 |
Nasionaliteit | Skot |
Beroep | Digter, beeldende kunstenaar |
Bekend vir | South Africa a Century Ago Auld Robin Gray |
Titel | Lady |
Eggenoot | Andrew Barnard |
Lady Anne Barnard (12 Desember, 1750 – 6 Mei, 1825) was 'n Skotse digteres en brieweskryfster. Lady Anne Barnard was een van die ou Kaap se mees omstrede vroue en het baie gedoen om die verskillende bevolkingsgroepe, ná die Britse besetting van die Kaap in 1795, nader aan mekaar te bring. Sy was spitsvondig, geseënd met 'n buitengewoon fyn humorsin en 'n begaafde skryfster. Haar talle sketse, aantekeninge, dagboeke en briewe het baie lig gewerp op die lewe van die inwoners van die Kaap van daardie tyd, en is in 1901 uitgegee onder die titel South Africa a Century Ago.[1] Dit was van besondere nut vir latere historici en navorsers wat 'n getroue beeld van die Kaap wou gee.
Lady Anne Barnard was ’n sosiale vlinder, maar ook ’n knap reisskrywer en kunstenaar. Barnard was die oudste dogter van die Graaf van Balcarres in Skotland. As lady Anne Lindsay het sy die ballade Auld Robin Gray in 1772 geskryf. Dit besorg later aan haar letterkundige onsterflikheid.[2]