Muhammad Anwar el-Sadat (أنور السادات) | |
3de President van Egipte
| |
Ampstermyn 15 Oktober 1970 – 6 Oktober 1981 Waarnemend: 28 September 1970 – 15 Oktober 1970 | |
Visepresident(e) | Ali Sabri; Mahmoud Fawzi; Hosni Mubarak |
---|---|
Eerste minister | Mahmoud Fawzi; Aziz Sedki; Hyself; Abd El Aziz Muhammad Hegazi; Mamdouh Salem; Mustafa Khalil; Hyself |
Voorafgegaan deur | Gamal Abdel Nasser |
Opgevolg deur | Sufi Abu Taleb (Waarnemend) Hosni Mubarak |
Eerste Minister van Egipte
| |
Ampstermyn 15 Mei 1980 – 6 Oktober 1981 | |
President | Hyself |
Voorafgegaan deur | Mustafa Khalil |
Opgevolg deur | Hosni Mubarak |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | Monufia, Egipte | 25 Desember 1918
Sterf | 6 Oktober 1981 (op 62) Kaïro, Egipte |
Politieke party | Nasionale Demokratiese Party |
Eggenoot/-note | Eqbal Afifi; Ehsan Madi; Jehan Sadat |
Handtekening |
Mohammed Anwar el-Sadat (محمد أنور السادات) Muḥammad as Anwar-Sādāt, Egipties:[muħæmmæd ˈʔɑnwɑɾ essæˈdæːt] (* 25 Desember 1918 – † 6 Oktober 1981) was die derde President van Egipte, 'n amp wat hy vanaf 15 Oktober 1970 tot en met die sluipmoord op hom deur fundamentalistiese offisiere op 6 Oktober 1981, beklee het. Sadat was 'n senior lid van die Vrye Offisiere-beweging wat Koning Farouk in die Egiptiese Revolusie van 1952 onttroon het, en 'n vertroueling van President Gamal Abdel Nasser, onder wie hy tweekeer as vise-president gedien het, en wie hy in 1970 as president opgevolg het.
In sy elf jaar as president, het hy Egipte se koers verander, deur uit baie van die politieke en ekonomiese beginsels van Nasserisme terug te trek, na 'n veelpartydemokrasie terug te keer, en die Infitah ekonomiese beleid van stapel te stuur. As President, het hy Egipte in die Jom Kippoeroorlog van 1973 gelei om Egipte se Sinai Skiereiland te herwin, wat Israel sedert die Ses-Dag Oorlog van 1967 beset het. Dit het van hom 'n held in Egipte en, vir 'n tyd, die res van die Arabiese Wêreld gemaak. Daarna het hy onderhandelinge met Israel begin, wat tot die Egipte–Israel Vredesverdrag gelei het. Hy en die Israeliese Eerste Minister, Menachem Begin, het daarvoor die Nobelprys vir Vrede verower.[1] Daardeur het Sadat die eerste Moslem-nobelpryswenner geword. Alhoewel Egiptiese reaksie op die verdrag, wat Sinai as Egiptiese gebied bevestig het, oor die algemeen gunstig was,[2] is dit deur die Moslem-Broederskap verwerp, wat gevoel het dat Sadat pogings om 'n Palestynse staat te verseker, laat vaar het.[2] Met die uitsondering van Soedan, was die Arabiese wêreld en die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PBO) sterk gekant teen Sadat se pogings om 'n aparte vrede met Israel te beding sonder om dit vooraf met die Arabiese state te bespreek. Sy weiering om met hulle te versoen oor die Palestynse kwessie het daartoe gelei dat Egipte se lidmaatskap in die Arabiese Liga tussen 1979 en 1989 opgeskort is.[3][4][5][6] Die vredesverdrag was ook een van die hooffaktore wat gelei het tot sy moord.