Die Arecibo-boodskap is ’n radioboodskap wat in 1974 die ruimte ingestuur is met die heropening van die Arecibo-radioteleskoop in Puerto Rico.[1] Die boodskap is gerig op die sterreswerm Messier 13, sowat 25 000 ligjare van die Aarde af. Wanneer dit sy bestemming bereik, sal M13 nie meer in daardie deel van die ruimte wees nie.[2]
Die boodskap bestaan uit 1 679 bis wat uitgestuur is op ’n frekwensie van 2 380 MHz en frekwensiegemoduleer met 10 Hz. Die volledige sein het drie minute geduur en is nie herhaal nie.[3] Die getal 1 679 is gekies omdat dit ’n semipriemgetal is, en daarom kon dit opgedeel word in 23 rye en 73 kolomme, of 73 rye en 23 kolomme. Wanneer die inligting op die eerste manier gerangskik word (23 rye, 73 kolomme) word onsin geproduseer, maar wanneer dit op die tweede manier gerangskik word (73 rye, 23 kolomme), word die afbeelding regs gevorm – daar word veronderstel dit sal as data herkenbaar wees. (Die kleure is net ter verduideliking; die oorspronklike boodskap bevat geen kleur nie.)
’n Mens kan die afbeelding in verskillende dele opdeel (gelees van bo na onder en van links na regs):
Aangesien dit 25 000 jaar sal duur voor die boodskap sy bestemming bereik (en nog 25 000 jaar voor ’n antwoord gekry kan word) is die Arecibo-boodskap eerder ’n demonstrasie van tegnologie as ’n egte poging om met buiteaardse lewe kontak te maak.[1]
Die boodskap is geskryf deur dr. Frank Drake (wat die bekende Drake-vergelyking opgestel het) met die hulp van onder andere Carl Sagan.[1]