Aspartaam is 'n kunsmatige, nie-sakkariede versoeter, wat 200 keer soeter as sukrose is, en word gewoonlik as suikervervanger in voedsel en drank gebruik. Dit is 'n metielester van die aspartiensuur/fenielalaniendipeptied met die handelsname NutraSweet, Equal, en Canderel. Aspartaam is die eerste keer in 1965 vervaardig en in 1981 goedgekeur vir gebruik in voedselprodukte deur die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA).
Aspartaam is een van die strengste getoetsde voedselbestanddele. Resensies deur meer as 100 regeringsinstansies het bevind dat die bestanddeel veilig is vir gebruik teen huidige vlakke.[1][2] Teen 2018 het verskeie kliniese toetse getoon dat die gebruik van aspartaam in die plek van suiker die kalorie-inname en liggaamsmassa van volwassenes en kinders verminder.