Asteroid Terrestrial-impact Last Alert System | |
---|---|
Alternatiewe naam | ATLAS-projek |
Kode | T05 (ATLAS-HKO) T08 (ATLAS-MLO) M22 (ATLAS–SAAO) W68 (ATLAS-CHL) |
Webtuiste | fallingstar |
Die asteroïedwaarskuwingstelsel ATLAS (vir Asteroid Terrestrial-impact Last Alert System) is 'n robotiese sterrekundige opname en vroeë waarskuwingstelsel wat geoptimaliseer is om kleiner nabyaardevoorwerpe op te spoor 'n paar weke tot dae voordat hulle met die Aarde bots.
Dit word deur Nasa befonds en deur die Universiteit van Hawaii se Instituut vir Astronomie ontwikkel en bedien. Die stelsel het tans vier 0,5-meter-teleskope. Twee is 160 meter van mekaar op die Hawaise eilande geleë, by Haleakalā (ATLAS-HKO, sterrewagkode T05) en Mauna Loa (ATLAS-MLO, sterrewagkode T08); een by die Sutherland-sterrewag in Suid-Afrika (ATLAS–SAAO, sterrewagkode M22) en een by die El Sauce-sterrewag in Chili (ATLAS-CHL, sterrewagkode W68).
ATLAS het in 2015 met waarnemings begin met een teleskoop by Haleakalā en in 2017 met twee in Hawaii. Die projek het toe Nasafondse gekry vir nog twee teleskope in die Suidelike Halfrond, wat vroeg in 2022 operasioneel geraak het.[1] Elke teleskoop bespied op 'n helder nag 'n kwart van die hele waarneembare hemel vier keer.[2] Die toevoeging van die twee suidelike teleskope het ATLAS se viervoudige dekking van die waarneembare lug verbeter van elke tweede helder nag tot elke nag, en het sy voorheen blinde kol in die verre suidelike lug uit die weg geruim.[3]