Die Atlas of Peculiar Galaxies is ’n sterrekundekatalogus van ongewone sterrestelsels wat deur die Amerikaanse sterrekundige Halton Arp opgestel is. Daar is altesaam 338 stelsels in die katalogus, wat oorspronklik in 1966 deur die Kaliforniese Instituut vir Tegnologie gepubliseer is.[1]
Die hoefdoel daarvan was om foto's van die verskillende soorte nabygeleë, ongewone sterrestelsels te verskaf. Arp het besef die rede hoekom sterrestelsels spiraal- of elliptiese stelsels word, is nie baie duidelik nie. Hy het ongewone stelsels beskou as klein "eksperimente" wat sterrekundiges kon bestudeer om die fisiese prosesse te verstaan wat spiraal- of elliptiese stelsels verwring. Die atlas is nie ’n algehele oorsig oor al die ongewone stelsels in die ruimte nie, maar verskaf eerder voorbeelde van die verskillende verskynsels soos wat hulle in nabygeleë stelsels gesien kan word.
Omdat min destyds bekend was oor die fisiese prosesse wat die verskillende vorms veroorsaak, word die sterrestelsels gerangskik volgens hul voorkoms. Voorwerpe 1-101 is individuele spiraalstelsels wat ongewoon is of oënskynlik klein metgeselle het. Voorwerpe 102-145 is elliptiese en elliptiesagtige stelsels. Individuele of groepe stelsels wat nie spiraal- of elliptiese vorms het nie, is voorwerpe 146-268. Voorwerpe 269-327 is dubbele stelsels. Voorwerpe wat nie in een van bogenoemde kategorieë pas nie, is genommer van 332-338. Die meeste voorwerpe is beter bekend onder ander name, maar vir ’n paar word meestal die Arp-nommer gebruik, soos Arp 220.
Vandag word die fisiese prosesse wat die verskillende vorms in die Arp-atlas veroorsaak goed verstaan. Baie van die stelsels is interaktiewe sterrestelsels, soos M51 (Arp 85), Arp 220 en die Antenne-sterrestelsels (NGC 4038/NGC 4039 of Arp 244). ’n Paar van die stelsels is bloot dwergsterrestelsels met te min massa om die nodige swaartekrag voort te bring om dit in enige samehangende struktuur te verander. NGC 1569 (Arp 210) is so ’n voorbeeld. ’n Paar ander stelsels is radiosterrestelsels. Hulle het aktiewe sterrestelselkerns wat kragtige gasstrome meebring. Voorbeelde hiervan in die atlas is M87 (Arp 152) en Centaurus A (Arp 153).