'n Balaklawa, ook bekend as 'n balaklawahelm of skimasker, is 'n vorm van hoofbedekking wat ontwerp is om die grootse deel van die gesig en kop te bedek. Afhangende van die styl en hoe dit gedra word, kan net die oë, mond en neus, of net die voorkant van die gesig onbeskermd wees. Weergawes met 'n volle opening kan in 'n hoed opgerol word om die kroon van die kop te bedek, of platgeslaan word vir 'n kraag om die nek.
Die naam kom van hul gebruik tydens die Slag van Balaclava gedurende die Krimoorlog, met verwysing na die dorp naby Sewastopol in die Krim,[1] toe die Britse troepe daar gebreide hoofbedekkings gedra het om warm te bly.[2]