| ||||
Benoe (b-n:nw*t-G31) in hiërogliewe |
---|
'n Benoe was 'n heilige voël in die Egiptiese mitologie. Dit word dikwels as 'n reier weergegee. Dit is nie heeltemal duidelik watter reier die Egiptenare bedoel het nie. Dit kan Ardea cinerea of die groter A. goliath gewees het, maar daar het ook die benoereier A. bennuides bestaan waarvan die beendere in Aboe Dhabi gevind is en wat nou uitgestorwe is.
Die benoe word verbind met Atoem, die skeppergod, maar ook met Ra, die songod.[1] Die voël is egter hoofsaaklik aan Osiris gewy en is 'n simbool van wederopstanding. Die naam beteken "dié wat terugkeer of omdraai". 'n Legende uit Heliopolis vertel dat die voël singend uit die vlamme van 'n bepaalde boom opstyg en dat sy lied so pragtig is dat selfs die songod, Ra, na hom luister. Die siel van 'n oorlede mens word dikwels met 'n benoe vergelyk.[2] Hoofstuk LXXXIII van die Egiptiese Boek van die Dooies is aan die verandering in 'n benoevoël gewy.[3]