Die Beslanskool-gyselaardrama, ook bekend as die Beslan-slagting, [1][2] was ’n voorval waartydens meer as duisend mense in Rusland drie dae lank as gyselaars aangehou is. Meer as 300 mense is eindelik dood.
Dit het begin toe ’n groep gewapende militante, die meeste van Ingoesjetië en Tsjetsjnië, sowat 1 100 mense, onder wie 777 kinders, op 1 September 2004 by Skool Nommer Een in die dorp Beslan in Noord-Ossetië gevange geneem het. Die groep rebelle is gestuur deur die Tsjetsjniese rebelleleier Sjamil Basajef, wat geëis het dat die tweede Tsjetsjniese Oorlog beëindig word.
Op die derde dag van die drama het Russiese veiligheidsmagte die skool bestorm met tenks, vuurpyle en ander swaargeskut.[3] ’n Reeks ontploffings het die skool geskud, gevolg deur ’n brand wat deur die gebou versprei het en ’n chaotiese skietery tussen die rebelle en die Russiese veiligheidsmagte. Minstens 334 mense, onder wie 186 kinders, is eindelik in die voorval dood[4][5] en honderde ander is beseer of is as vermis aangemeld.