Blou en Wit | |
Leier | Benny Gantz |
---|---|
Slagspreuk | Benny. Kies eerlikheid (2021) |
Gestig | 21 Februarie 2019 |
Samesmelting van | Israeli Veerkragtigheidsparty (2019–hede) Telem (2019–2020) Yesh Atid (2019–2020) |
Hoofkwartier | Tel Aviv |
Webblad | kachollavan |
Blou en Wit (Hebreeus: כָּחוֹל לָבָן Kaḥol Lavan) is 'n liberale en midde-nasionalisties politieke alliansie in Israel. Dit word tans deur Benny Gantz gelei.[1][2]
Die alliansie is in Februarie 2019 deur die Israeli Veerkragtigheidsparty, Telem en Yesh Atid gestig om in die verkiesing van April 2019 te staan om die destydse Israeli eerste minister Benjamin Netanyahu uit sy amp te verslaan.[3] Blou en Wit definieer homself as 'n pluralistiese alliansie wat alle burgers ongeag hulle politieke en godsdienstige spektrum verteenwoordig. Die frase "blou en wit" verwys na die kleure van die Israeliese vlag en word in die volksmond gebruik om iets as tipies Israelies te beskryf.[4]
Na die verkiesing in Maart 2020, is Benny Gantz, die leier van Blou en Wit, die taak opgelê om 'n nuwe regering te vorm nadat 61 Knesset-lede, 'n meerderheid, vir hom die groen lig gegee het om so te doen.[5] Te midde van die COVID-19-pandemie, is Gantz gekies om as die tussentydse voorsitter van die Knesset te dien terwyl hy met Benjamin Netanyahu onderhandel het om 'n koalisieregering te vorm.
Die gevolg was 'n verbrokkeling van die Blou en Wit alliansie.[6] Yesh Atid en Telem het op 29 Maart 2020 van die alliansie af weggebreek om 'n aparte faksie in die Knesset te vorm.[7] Op 20 April is 'n koalisie-ooreenkoms met Likoed onderteken waarin Netanyahu eers as eerste minister sou dien, en Gantz, leier van Blou en Wit, vanaf Oktober 2021 as eerste minister sou dien, asook om die party ministeriële portefeuljes te gee, soos die minister van verdediging en minister van buitelandse sake.[8]
Hierdie ooreenkoms is egter nooit bereik nie, want die koalisieregering het in Desember 2020 in duie gestort ná 'n groot begrotingsgeskil, wat tot nuwe verkiesings in Maart 2021 gelei het waarin Blou en Wit net agt setels kon wen.[9]