Boeing B-52 Stratofortress | |
---|---|
Tipe | Strategiese bomwerper |
Vervaardiger | Boeing |
Nooiensvlug | 15 April 1952 |
Vrygestel | Februarie 1955 |
Status | In diens |
Hoofgebruikers | Amerikaanse Lugmag NASA |
Vervaardig | 1952-1962 |
Aantal gebou | 744 |
Eenheidskoste | B-52B: VS$14.43 miljoen B-52H: VS$9.28 miljoen (1962) B-52H: VS$53.4 miljoen (1998)[1] |
Weergawes | Conroy Virtus |
Die Boeing B-52 Stratofortress is 'n enorme naoorlogse Amerikaanse bomwerper. Dit is intensief gedurende die Viëtnamoorlog gebruik, en meer onlangs tydens die Geallieerde veldtogte in Irak en Afganistan.[2]
Die B-52 is 'n langreikafstand, subsoniese, straleraangedrewe strategiese bomwerper wat deur Boeing ontwerp en vervaardig is. Hoewel tegnologies verouderd, is dié straalvliegtuig steeds in diens, en Boeing voorsien volgehoue ondersteuning en opgraderings daarvoor. Dit word sedert die 1950's deur die Amerikaanse Lugmag (USAF) bedryf. Die bomwerper is in staat om tot 32 000 kg (70 000 lb) se bomme en ander wapens te dra.[3]
Ná die suksesvolle kontrakbod in Junie 1946 het die B-52-ontwerp ontstaan as 'n reguitvlerkvliegtuig, aangedryf deur ses turboskroefmotore, maar is verbeter tot die finale prototipe YB-52 met agt turbostralerenjins en geswiepde vlerke. Die B-52 het sy nooiensvlug in April 1952 onderneem. Die B-52 Stratofortress het die Convair B-36 Peacemaker vervang, en is gebou om kernwapens te dra op afskrikmissies tydens die Koue Oorlog-era. As 'n veteraan van verskeie oorloë, het die B-52 slegs konvensionele wapens tydens konflikte ontplooi. Die B-52 se amptelike naam Stratofortress is selde gebruik in informele omstandighede, en dit het algemeen geword om na die vliegtuig te verwys as die "BUFF" (Big Ugly Fat Fucker).
Die B-52 is sedert 1955 in aktiewe diens van die Amerikaanse Lugmag. Teen 2022 was daar nog 72 in aktiewe diens en 12 in langtermynreserwe gestoor. Die bomwerpers is gevlieg deur die "Strategic Air Command" (SAC) totdat dit geïnaktiveer is in 1992 en sy vliegtuie in die "Air Combat Command" (ACC) geabsorbeer is; in 2010 is al die B-52 Stratofortresses van die ACC na die nuwe "Air Force Global Strike Command" (AFGSC) oorgedra. Superieure prestasie teen hoë subsoniese spoed en relatief lae bedryfskoste het die B-52 in diens gehou ten spyte van die koms van meer gevorderde vliegtuie, insluitend die gekanselleerde Mach 3 B-70 Valkyrie, die veranderlike geometrie Rockwell B-1 Lancer, en die verrasser ("stealth") die Northrop Grumman B-2 Spirit. Die B-52 het in 2005 vyftig jaar van aaneenlopende diens by sy oorspronklike operateur voltooi; nadat dit tussen 2013 en 2015 opgegradeer is, sal dit na verwagting tot die 2040's in diens bly.