Bokkoms (of Bokkems) is heel, gesoute en gedroogde harders, meer spesifiek die Suidelike harder (Liza richardsonii) wat alombekend is as 'n lekkerny aan die Weskus van Suid-Afrika.[1][2] Die vis word gesout en gedroog in die son en wind. Dit word rou geëet nadat die vel afgetrek is. In sekere gevalle word die vis ook gerook. Dit word ook na verwys as visbiltong.
Die woord bokkom kom van die Nederlandse woord bokkem, wat 'n variant is van die woord bokking (of buckinc in Middelnederlands).[3] Die woord bokking is afgelei vanaf die word bok (die Nederlandse word vir bok of boerbok), en verwys na die feit dat bokkoms mense herinner het aan 'n bok omdat bokkoms dieselfde vorm as die horings van 'n bok het. Bokkoms is ook net so hard soos 'n bok se horings en dit stink ook baie soos 'n bok se horings (bokke het reukkliere agter hulle horings wat die sterk reuke afgee).[3] Die eerste amptelike rekord van die gebruik van die woord in die Afrikaanse taal was in die Patriotwoordeboek van 1902 as die woord bokkom.