Boris Nemtsof Борис Немцов | |
![]() Nemtsof in 2013. | |
Adjunkpremier van Rusland
| |
Ampstermyn 28 April 1998 – 28 Augustus 1998 | |
1ste adjunkpremier van Rusland
| |
---|---|
Ampstermyn 17 Maart 1997 – 28 April 1998 | |
Voorafgegaan deur | Wladimir Poetin |
Opgevolg deur | Joeri Masljoekof |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 9 Oktober 1959 Sotsji, USSR |
Sterf | 27 Februarie 2015 (op 55) Moskou, Rusland |
Religie | Russies-Ortodoks |
Boris Jefimowitsj Nemtsof (Russies: Бори́с Ефи́мович Немцо́в, IFA-uitspraak: bɐˈrʲis jɪˈfʲiməvʲɪtɕ nʲɪmˈtsof; 9 Oktober 1959 – 27 Februarie 2015) was ’n Russiese wetenskaplike, staatsman en liberale politikus. Hy was een van die belangrikste mense wat betrokke was by die instelling van kapitalisme in die Russiese ekonomie ná die verbrokkeling van die Sowjetunie.[1] Hy het in die 1990's ’n suksesvolle politieke loopbaan onder Boris Jeltsin gehad en was sedert 2000 ’n uitgesproke kritikus van Wladimir Poetin. Hy is op 27 Februarie 2015 doodgeskiet op ’n brug naby die Kremlin en Rooiplein in Moskou.[2] Hy is vier keer in die rug getref.[3]
Ten tyde van sy dood was Nemtsof in Moskou om te help met die organisasie van ’n optog teen Poetin se beleidsrigtings oor die Russiese betrokkenheid in die oorlog in Oekraïne en die Russiese finansiële krisis van 2014–'15. Sy kritiek jeens die Poetin-regering was veral weens beweerde wydverspreide geldverduistering en woekerhandel voor die Olimpiese Winterspele in 2014 in Sotsji, sowel as Rusland se politieke inmenging en militêre betrokkenheid in Oekraïne.[4][5] In die weke voor sy dood het Nemtsof gesê hy is bang Poetin laat hom vermoor.[6][7]
Tot met sy dood was Nemtsof lid van die streeksparlement van Jaroslawl-oblast (verkies in 2013), ’n medevoorsitter van die Republikeinse Party van Rusland en een van die leiers van die opposisiebeweging Solidarnost.