Die term boukuns, wat dikwels as 'n sinoniem van argitektuur gebruik word, omvat in sy nouer betekenis veral die visuele - in die praktyk dikwels die estetiese - element in bouwerk, in teenstelling met die begrip boukunde, wat meer op die tegniek en konstruksie betrekking het. Argitektuur mag sodoende gedefinieer word as 'n ingenieursdissipline waarin die ontwerp, beplanning en verwesenliking van driedimensionele ruimtes en ander strukture 'n sentrale rol speel (so het die term argitektuur in hierdie nouer betekenis ook ingang gevind tot die inligtingstegnologie), terwyl boukuns ook na die subjektiewe estetiese ruimte-ervaring van die waarnemer kan verwys wat nie deur wiskundige reëls beskryf kan word nie.
Die Duitse digter Johann Wolfgang von Goethe (1749–1832) fokus op 'n aspek van argitektuur waardeur hierdie ingenieurswetenskap in die kunssfeer gebring word. Vir hom baseer boukuns op die noukeurige kennis van die boumateriaal, op die bepaalde gebruik waarvoor 'n gebou bestem is, die harmonie van die sintuiglike waarneming daarvan en op die "poësie wat van 'n bouwerk werklik 'n kunswerk maak."[2] Hierdie subjektiewe definisie fokus sterk op historiese, sakrale en klassieke argitektuur as boukuns, sowel as die kreatiwiteit en vernuf van die boumeester.
By die bestudering van die boukuns is daar vroeër feitlik net gelet op die opvallende skeppinge soos kerke en paleise, wat as van groot estetiese belang beskou is en volgens stylperiodes gekategoriseer kan word. Dit is maar eers in die 20ste eeu dat die totale beboude omgewing daarby betrek is.