Caravaggisti

Mars Chastising Cupido deur Bartolomeo Manfredi (1582-1622)

Die Caravaggisti (of die "Caravagesques" in Frans) was stylvolgelinge van die 16de eeuse Italiaanse barokskilder Caravaggio. Sy invloed op die nuwe barokstyl wat uiteindelik uit maniërisme voortgespruit het was diepliggend. Caravaggio het nooit 'n werkswinkel op die been gebring soos die meeste ander skilders nie, en het dus geen skool gehad om sy tegnieke te versprei nie. Hy het ook nooit sy onderliggende filosofiese benadering tot kuns uiteengesit nie, welke sielkundige realisme slegs uit sy steeds bestaande werke afgelei kan word. Dit kan egter direk of indirek gesien word in die werk van Rubens, Jusepe de Ribera, Bernini en Rembrandt. Hy het reeds tydens sy leeftyd bekendheid verwerf, maar is byna onmiddellik na sy dood vergeet. Baie van sy skilderye is aan sy volgelinge her-toegeskryf, soos Die Wegneem van Christus, wat tot 1990 aan die Nederlandse skilder Gerrit van Honthorst toegeskryf is. Eers in die 20ste eeu word sy belang vir die ontwikkeling van Westerse kuns herontdek. In die 1920's plaas Roberto Longhi hom weer in die Europese tradisie: "Ribera, Vermeer, La Tour en Rembrandt sou nooit sonder hom kon bestaan het nie. En die kuns van Delacroix, Courbet en Manet sou heeltemal anders daar uitgesien het". [1] Die invloedryke Bernard Berenson het gesê: "Met die uitsondering van Michelangelo, het geen ander Italiaanse skilder so 'n groot invloed uitgeoefen nie." [2]

  1. Roberto Longhi, aangehaal in Lambert, op. cit., p.15
  2. Bernard Berenson, in Lambert, op. cit., p.8

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne