Cardiff Arms Park Parc yr Arfau Caerdydd | ||
![]() | ||
Cardiff Arms Park met die Millennium-stadion op die agtergrond
| ||
Ligging | Cardiff, Wallis | |
---|---|---|
Koördinate | 51°28′47″N 3°11′1″W / 51.47972°N 3.18361°W | |
Eienaar | Cardiff Atletiekklub | |
Kapasiteit | 16 500 (1969)[1] 12 125 (vandag)[2] | |
Oppervlak | Kunsmatige sooi | |
Konstruksie | ||
Eerste sooi gespit | 1967 | |
Geopen | 1969 | |
Argitek | Osborne V. Webb & Vennote | |
Hoofkontrakteurs | G.A. Williamson en Andrew Scott & Co. | |
Huurders | ||
Cardiff Blues (2003-2009), (2012-) Cardiff RVK (1969-) |
Cardiff Arms Park (Wallies: Parc yr Arfau Caerdydd), ook bekend as Die Arms Park en BT Sport Cardiff Arms Park, is ’n veeldoelige stadion in Cardiff, Wallis. Die stadion is in 1969 geopen en is hoofsaaklik bekend as ’n rugbystadion hoewel daar ook ’n rolbalbaan is. Die Arms Park was in 1958 gasheer vir die Britse Ryk en Statebondspele en het ook vier wedstryde in die Rugbywêreldbeker 1991 gehuisves, waaronder die uitspeelwedstryd vir die derde plek. Die Arms Park was ook gasheer vir die inwydings-Heinekenbekereindstryd van 1995–’96 en ook vir die volgende jaar se eindstryd.
Die geskiedenis van die rugbyveld begin met die eerste terrasse wat in 1881–1882 vir toeskouers opgerig is.[3] Die Arms Park het oorspronklik ’n krieketovaal ten noorde en ’n rugbyveld ten suide gehad. Teen 1969 is die krieketovaal gesloop om plek te maak vir die hedendagse rugbyveld ten noorde en ’n tweede rugbyveld ten suide wat as die Nasionale Stadion bekend staan. Die Nasionale Stadion, wat deur die Walliese nasionale rugbyspan gebruik is, is op 7 April 1984 amptelik geopen, maar dit is in 1997 gesloop om plek te maak vir die Millennium-stadion wat gereed moes wees vir die Rugbywêreldbeker 1999, en dit het ook die nasionale stadion van Wallis geword. Die rugbyveld het die tuisveld van die semi-professionele Cardiff RVK gebly maar die professionele Cardiff Blues het in 2009 na Cardiff Stad-stadion geskuif waar hulle vir drie jaar vertoef het voor hulle teruggeskuif het na Cardiff Arms Park.
Die terrein word deur Cardiff Atletiekklub besit en het buiten rugby en krieket ook atletiek, voetbal, windhondwedrenne, tennis,[4] Britse bofbal en boks gehuisves. Die terrein het ook ’n rolbalbaan ten noorde van die rugbyveld wat deur Cardiff Atletiek Rolbalklub gebruik word.[5] Die Nasionale Stadion het ook verskeie musiekkonserte van kunstenaars soos Michael Jackson, David Bowie, Bon Jovi, The Rolling Stones en U2 gehuisves.