Chadaloh I (ook Kadaloch, Kadolach, Cadolah, Cadolach, Chadolah, Chadalhoh, Chadolt, verlatynste Cadalaus) († 31 Oktober 819) was die oudste seun van Perahthold II en sy vrou Gersinda. Perahthold (ook Peratolt, Perttolt, Berthold) was die graaf van Baar, en stam uit die geslag van die Alaholfinger. Die Baar was 'n graafskap in die huidige deelstaat Baden-Württemberg, Duitsland.
Chadaloh het sy pa Perahthold II opgevolg as graaf in die Baar (of dele daarvan), voordat hy deur die Keiser Lodewyk die Vrome eers na Dalmasië verplaas is en toe as die markgraaf van Frioelië (Italiaans: Friuli) aangestel is. Sy seun Berthold III was van 820, graaf in die Baar. 'n Ander seun van hom was Chadaloh II.
Chadaloh I het saam met sy broer Wago op 23 Oktober 805 in Zell by Riedlingen landgoedere in die oostelike Baar aan die klooster van St. Gallen geskenk. Die twee broers het egter 'n reg van vruggebruik behou, hoewel hulle daar jaarliks voor betaal het. Vir die geval dat beide sonder erfgename sou sterf, sou die eiendom aan die klooster val. [1][2]