Chang'e 4 (Chinees: 嫦娥四号; Cháng'é sìhào) is ’n Chinese maanverkenningsending wat op 3 Januarie2019 die eerste sagte landing op die agterkant van die Maan uitgevoer het.[2]
Die robotlandingstuig en die Yutu-2-maankarretjie[1] is op 7 Desember 2018 gelanseer en het op 12 Desember in ’n wentelbaan om die Maan gegaan. Die landingstuig het op 3 Januarie 2019 ’n sagte landing op die agterkant van die Maan uitgevoer.[3]
Die sending volg op Chang'e 3, China se eerste landing op die Maan. Die tuig is aanvanklik as ’n ondersteuningstelsel vir Chang'e 3 gebou en het beskikbaar geraak nadat Chang'e 3 in 2013 suksesvol geland het. Chang'e 4 se konfigurasie is aangepas vir die nuwe wetenskaplike doelwitte. Nes sy voorgangers is die sending genoem na die Chinese maangodin, Chang'e.