Die Chicago White Sox [1] is 'n Amerikaanse professionele bofbalspan wat gebaseer is in Chicago. Die White Sox ding mee in Hoofligabofbal (MLB) as 'n lid van die Amerikaanse Liga (AL) se Sentrale Divisie (AL-Sentraal). Die klub speel sy tuiswedstryde by Guaranteed Rate Field, wat in die suide van Chicago geleë is. Die span is een van twee MLB spanne wat in Chicago gebaseer is, saam met die Chicago Cubs van die Nasionale Liga (NL).
Die White Sox was oorspronklik deel van die Western League (1885–1900), en is gestig as die Sioux City Cornhuskers in 1894, waarna die span verhuis het na Saint Paul, Minnesota, as die St. Paul Saints, maar uiteindelik teruggekeer het na Chicago in 1900. Die Chicago White Stockings was een van die Amerikaanse Liga se agt "charter franchises" toe die AL in 1901 hoofligastatus bekom het. Die span, wat sy naam in 1904 na die White Sox verkort het, het oorspronklik hul tuiswedstryde by South Side Park gespeel, voordat hulle in 1910 na Comiskey Park verhuis het, waar hulle gespeel het tot 1990. Die span het na hul huidige stadion verskuif vir die 1991-seisoen. Die stadion, wat oorspronklik ook bekend was as Comiskey Park soos sy voorganger, is later geborg deur U.S. Cellular.[2]
Die White Sox het hul eerste Wêreldreeks in 1906 teen die Cubs gewen met 'n span wat op verdediging gefokus was en wat as "die Hitless Wonders" bekend gestaan het. Die span het later die 1917-Wêreldreeks teen die New York Giants gewen. Hul volgende verskyning in die 1919 Wêreldreeks is ontsier deur die Black Sox-skandaal, met agt lede van die White Sox wat betrokke was by wedstrydknoeiery. Die White Sox het die Wêreldreeks verloor teen die Cincinnati Reds. In reaksie hierop het die nuwe kommissaris van bofbal, Kenesaw Mountain Landis, die spelers lewenslank uit die liga verban. Die White Sox het sedert die skandaal nog net in twee Wêreldreekse verskyn. Die eerste verskyning was in 1959, waartydens hulle teen die Los Angeles Dodgers verloor het, voordat hulle uiteindelik hul derde kampioenskap in 2005 gewen het teen die Houston Astros. Die 88 seisoene wat dit die White Sox geneem het om die Wêreldreeks te wen is die langste kampioenskapsdroogte in die Amerikaanse Liga, en die tweede langste in albei ligas, ná die Cubs se 108 seisoene.
Van 1901 tot 2023 het die White Sox 'n algehele wen-verloor rekord van 9,553 wedstryde gewen, 9,491 wedstryde verloor en 103 wedstryde gelykop gespeel ('n wenpersentasie van .502).[3]