Die Chinese Grand Prix is 'n motorwedren wat sedert 2004 in China plaasvind en 'n rondte van die Formule Een Wêreldkampioenskap vorm. Dit vind plaas op die Shanghai Internasionale Renbaan in Jiading, Shanghai, 'n baan wat deur Hermann Tilke ontwerp is.
Die baan was die duurste Formule Eenrenbaan toe dit in 2004 voltooi is, teen 'n koste van VS$240 miljoen.[1][2] Die baan is 5.451 km lank[3] met een van die moeilikste draaikombinasies op die Formule Eenkalender. Draaie 1 en 2 is saam 'n veeleisende 270 grade, 'n regshandige kombinasie wat hoë spoed by die ingang vereis maar dan verder verskerp teen die uitgang.