Chinese kookkuns bestaan uit disse wat uit China afkomstig is. As gevolg van die Chinese diaspora en historiese krag van die land, het Chinese kookkuns baie ander kookkunste in Asië en verder ingrypend beïnvloed, met wysigings wat aangebring is om in plaaslike smaak te voorsien. Chinese stapelvoedsel soos rys, sojasous, noedels, tee, brandrissie-olie en tofu, en eetgerei soos eetstokkies en die wok, kan deesdae wêreldwyd aangetref word.
Die voorkeure vir geurmiddels en kooktegnieke van Chinese provinsies hang af van verskille in sosiale klas, godsdiens, historiese agtergrond en etniese groepe. Geografiese kenmerke insluitend berge, riviere, woude en woestyne het ook 'n sterk uitwerking op die plaaslikbeskikbare bestanddele, in ag genome dat die klimaat van China wissel van tropies in die suide tot subarkties in die noordooste. Keiserlike, koninklike en adellike voorkeur speel ook 'n rol in veranderinge in Chinese kookkuns. As gevolg van imperiale uitbreiding en handel, is bestanddele en kooktegnieke van ander kulture mettertyd in Chinese kookkuns geïntegreer.
Daar is talle plaaslike, godsdienstige en etniese style van Chinese kookkuns wat binne China en ook in die buiteland gevind word. Chinese kookkuns is hoogs divers en word meestal in provinsiale afdelings gekategoriseer, alhoewel hierdie klassifikasies uit baie meer style in hulself bestaan. Die mees geprysde Vier Groot Tradisies in Chinese kookkuns is Chuan, Lu, Yue en Huaiyang, wat kookkuns van onderskeidelik Wes-, Noord-, Suid- en Oos-China verteenwoordig.[1] Die moderne sewe kookkunste van China is Anhui (徽菜), Guangdong (粵菜), Fujian (閩菜), Hunan (湘菜), Jiangsu (蘇菜魯菜), Sichuan (川菜) en Zhejiang (浙菜) -kookkunste.[2]
Kleur, geur en smaak is die drie tradisionele aspekte wat gebruik word om Chinese kos te beskryf, sowel as die betekenis, voorkoms en voeding van die kos. Kook moet beoordeel word met betrekking tot die bestanddele wat gebruik word, kerfwerk, gaarmaaktyd en geurmiddels.
In vergelyking met vleisverbruik in die wêreldwye kookkuns, is Chinese kookkuns veral uniek vir sy breë, sterk en swaar klem op varkvleisgeregte, in teenstelling met bees- of pluimveegeregte (met die uitsondering natuurlik van Chinese Islamitiese kookkuns).[4]