Christopher Hitchens | |
---|---|
Gebore | 13 April 1949 Waterlooville, Hampshire (Engeland) |
Sterf | 15 Desember 2011 (op 62) |
Nasionaliteit | Brits (by geboorte), Amerikaans |
Beroep | Joernalis, outeur |
Eggenoot | Eleni Meleagrou (1981–1989; egskeiding) Carol Blue (1991–2011; sy afsterwe)[1] |
Geloof | Geen (ateïs) |
Handtekening | |
Christopher Eric Hitchens (13 April 1949 – 15 Desember 2011) was 'n Brits-Amerikaanse[2][3] outeur, polemikus, debatvoerder en joernalis.[4] Hitchens skryf vir New Statesman, The Nation, The Atlantic, The London Review of Books, The Times Literary Supplement, en Vanity Fair. Hy was outeur, mede-outeur, redigeerder, en mederedigeerder van meer as dertig boeke, waarvan vyf essayversamelings, en fokus op 'n reeks onderwerpe, waaronder politiek, letterkunde, en religie. Hy was 'n gewilde gas op kletsprogramme en by lesingskringe, en sy konfronterende debatstyl maak van hom terselfteryd 'n geprysde en omstrede figuur. Hy was bekend vir sy teendraadse stand op 'n aantal kwessies en reken vel af met openbare figure soos Moeder Teresa, Bill Clinton, Henry Kissinger, Prinses Diana, en Joseph Ratzinger. Christopher was die ouer broer van outeur Peter Hitchens.
Hy beskryf hom lank reeds as 'n sosiaaldemokraat, maar begin weg van die gevestigde linkse politiek te breek ná wat hy beskryf as die "flou reaksie" van die Weste se linkses op die Rushdie-affêre, gevolg deur die linkses se aanvaarding van Bill Clinton, en die teenoorlogbeweging se teenstand tot ingryping in Bosnië-Herzegowina. Alhoewel Hitchens sy skrywerspos by The Nation nie tot ná die terrorismeaanvalle van 11 September 2001 verlaat nie, voel hy dat die tydskrif die posisie bereik "dat John Ashcroft 'n groter bedreiging as Osama bin Laden" is.[5] Die gebeure van die 11de September 2001 "wend hom op", bring "n stryd tussen alles wat ek lief het en alles wat ek haat" binne fokus, en versterk sy aanvaarding van 'n intervensionistiese buitelandse beleid wat "fascisme met 'n Islamitiese aangesig" uitdaag.[6] Sy menige hoofartikels ter ondersteuning van die Irakoorlog lei daartoe dat sommiges hom as 'n neokonserwatiewe bestempel, alhoewel Hitchens daarop aandring dat hy nie "'n konserwatiewe van enige aard" was nie. Sy vriend Ian McEwan beskryf hom as 'n verteenwoordiger van die antitotalitaristiese linkses.[7][8] Tydens 'n onderhoud met die BBC in 2010 vermeld hy inderdaad dat hy "steeds 'n Marxis" was.[9]
Hitchens was 'n vernaamde kritikus van religie en 'n antiteïs, en sê dat 'n persoon "'n ateïs kan wees en wens dat geloof in god korrek is", maar dat "'n antiteïs, 'n term wat ek in sirkulasie probeer bring, iemand is wat verlig is dat daar geen bewyse vir só 'n bewering is nie".[10] Volgens Hitchens is die konsep van 'n god of opperwese 'n totalitaristiese oortuiging wat indiwiduele vryheid vernietig, en vrye uitdrukking en wetenskaplike ontdekking moet religie vervang as 'n wyse waarop etiek geleer word en menslike beskawing gedefinieer word. Sy antireligieuse polemiek en New York Times-topverkoper, God is not Great – How Religion Poisons Everything ("God is nie groot nie – hoe religie alles vergiftig"), verkoop meer as 500 000 eksemplare.
Hitchens sterf op 15 Desember 2011 aan komplikasies weens slukdermkanker, 'n siekte wat hy toegee tien-teen-een te wyte was aan sy lewenslange voorkeur vir hewig rook en drink.[11]