Sir Colin Rex Davis (25 September 1927–14 April 2013) was 'n Engelse dirigent wat bekend was om sy assosiasie met die Londen Simfonieorkes wat hy in 1959 begin dirigeer het. Sy repertoire was breedvoerig gewees. Hy word egter veral met die werke van Mozart, Berlioz, Elgar, Sibelius, Strawinski en Michael Tippett geassosieer.
Hy het die klarinet studeer, maar was egter vasberade om 'n dirigent te word. Nadat hy aanvanklik in die jare 1949 tot 1957 as 'n vryskut-dirigent gesukkel het om opgang te maak, het hy 'n reeks opeenvolgende aanstellings by orkeste bekom, insluitende die BBC Skotse Simfonieorkes, die BBC Simfonieorkes en die Beiere Radio-simfonieorkes. Hy het ook die musikale direkteurskap van die Engelse Nasionale Opera en die Royal Opera House gehou, waar hy vir meer as vyftien jaar hoofdirigent was. Hy het ook by onder andere die Boston Simfonieorkes, die New York Filharmoniese Orkes en die Dresden Staatskapelle as gas-dirigent verskyn.
As onderwyser het Davis poste gehou by die Koninklike Akademie van Musiek, Londen, en die Sächsisches Landesgymnasium für Musik "Carl Maria von Weber" (voorbereidende skool vir musiek) in Dresden. Hy het in 1958 sy eerste opnames vir die grammofoon gemaak. Sy diskografie oor die volgende vyf dekades was uitgebreid, met 'n groot aantal ateljee-opnames vir Philips Records en 'n aansienlike katalogus van lewendige opnames vir die Londen Simfonieorkes se eie plate-etiket.