Cotton Club

Duke Ellington was een van die oorspronklike orkesleiers van die Cotton Club.
Adelaide Hall, 'n ster van die Cotton Club.

Die Cotton Club was van 1923 tot 1940 'n nagklub in New York. Dit was op die hoek van 142nd Street en Lenox Avenue geleë (1923-'36), toe vir 'n kort ruk in die teaterdistrik van Manhattan, waar die meeste Broadway-teaters is (1936-'40).[1] Die klub is bedryf tydens die tydperk van die drankverbod in Amerika en die Jim Crow-rasseskeiding. Swart mense is aanvanklik nie as gaste in die klub toegelaat nie, maar die meeste gewilde swart kunstenaars van die tydperk het hier opgetree, onder andere die musikante Fletcher Henderson, Duke Ellington, Louis Armstrong en Count Basie; die sangers Adelaide Hall,[2][3] Ethel Waters, die Dandridge Sisters, die Mills Brothers, Nina Mae McKinney, Billie Holiday en Lena Horne; en dansers soos Katherine Dunham, die Nicholas Brothers, Charles 'Honi' Coles en Stepin Fetchit.

Op sy hoogtepunt was die Cotton Club 'n gewilde uithangplek, met gereelde "Celebrity Nights" op Sondae met bekende gaste soos Jimmy Durante, Sophie Tucker, Paul Robeson, Al Jolson, Mae West, Irving Berlin, Fanny Brice en Judy Garland.

  1. Elizabeth Winter, "Cotton Club of Harlem (1923- )", Black Past (besoek op 9 September 2014).
  2. Iain Cameron Williams, Chapter 15, Underneath A Harlem Moon: The Harlem to Paris Years of Adelaide Hall, Continuum, 2002.
  3. "Adelaide Hall with Cotton Club Revue", The Afro American, September 23, 1933.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne