Dale-kollege is 'n sekondêre staatskool vir seuns op King William's Town in die Oos-Kaap, Suid-Afrika.
Dis skool is in 1861 gestig en etlike jare later genoem na sir Langham Dale (1826–1898), superintendent-generaal van onderwys in die Kaapkolonie en vroeër (van die ouderdom van 22) hoogleraar aan die Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad. Die skool se hoeksteen is op 6 September 1877 gelê deur sir Bartle Frere, goewerneur van die Kaapkolonie. Onder ou bedeling is net wit leerders tot Dale-kollege toegelaat. Die skool is vroeg in die 1990's oopgestel vir alle rasse, maar nadat die dorp se wit bevolking drasties afgeneem het (van 2 881 in 2001 se sensus tot 1 892 in 2011 s'n)[1][2] het Dale binne sowat 20 jaar amper uitsluitlik swart leerders gehad.[3]
Dale se susterskool, die Hoër Meisieskool Kingsridge, gestig in 1875, het tot Oktober 2004 as die Hoër Meisieskool Kaffrarië (Eng.: Kaffrarian High School for Girls) bekendgestaan.[4] Dié naam is verander omdat "Kaffrarië" (wat "land van die Kaffers" of "Kafferland" beteken) as kwestend beskou word.[5]
Dale se 98 matrikulante het in 2012 'n 88,8%-slaagsyfer behaal, 2013 se 93 'n 93,5%-slaagsyfer en 2014 se 114 'n 91,2%-slaagsyfer.[6] Die skool was in 2015 onder die top 20 rugbyskole in die land op FNB se ranglys.[7] Middel 2015 was Dale die Suid-Afrikaanse skool wat die 14de meeste Springbokke opgelewer het sedert 1906, naamlik sewe.[8]