"Die Skepping" | |
---|---|
Oratorium deur Joseph Haydn (1732–1809) | |
![]() | |
Genre | Oratorium |
Libretto | Baron Gottfried van Swieten |
Taal | Duits |
Gebaseer op | Genesis, Psalms en Paradise Lost deur Milton |
Gekomponeer | 1796–1798 |
Partituur | Sopraan, tenoor en bas, koor en orkes |
Die skepping (Duits: Die Schöpfung) is 'n oratorium wat tussen 1797 en 1798 deur Joseph Haydn (Hob. XXI:2) gekomponeer is en deur baie mense as een van sy meesterwerke beskou word. Die oratorium beeld die skepping van die wêreld uit en vier dit soos wat dit in Genesis beskrywing.
Die teks (libretto) is deur baron Gottfried van Swieten saamgestel. Die werk bestaan uit drie dele en die besetting is vir sopraan-, tenoor- en bassoliste, 'n koor en 'n simfonieorkes. In deel 1 en 2, wat die skepping uitbeeld, verteenwoordig die soliste die aartsengele Raphael (bas), Uriël (tenoor) en Gabriël (sopraan). In deel 3 verteenwoordig die bas en sopraan Adam en Eva.
Die eerste openbare uitvoering het op 19 Maart 1799 in Wene in die ou Burgtheater plaasgevind. Die oratorium is in 1800 met die teks in Duits en Engels gepubliseer.
Haydn is besiel om 'n groot oratorium te komponeer ná besoeke aan Engeland in 1791–1792 en 1794–1795, waar hy die oratoriums van G.F. Händel gehoor het wat deur groot orkeste en kore uitgevoer is.[1] Dit is waarskynlik dat Haydn 'n eie komposisie van soortgelyke grootte wou komponeer, maar in die klassieke styl. Onder die werke wat Haydn gehoor het, was Israel in Egipte, waarin Händel op verskillende wyses van toonskildering gebruik gemaak het. Dit word weerspieël in die wyse waarop Haydn met groot vrug van dié musiektegniek in Die Skepping gebruik gemaak het.[2]