'n Doeblet (ook dubbelvorm of tweelingwoorde genoem) in etimologie is die benaming vir 'n groep van twee of meer woorde in dieselfde taal met verskillende vorme en oor die algemeen ook subtiele verskillende betekenisse, maar met 'n gemeenskaplike oorsprong. Byvoorbeeld: tabak en twak.
Lede van 'n doeblet is dus altyd kognate (woorde met 'n gemene oorsprong). Die betekenis van die afsonderlike lede van 'n doeblet hou oor die algemeen met mekaar verband, en kan teruggevoer word na 'n gemeenskaplike etimologiese wortel.
Lede van 'n doeblet kan almal erfwoorde wees, maar hulle kan ook op ander maniere in die taal opgeneem word. So kan die een woord byvoorbeeld 'n regstreekse erfwoord wees, terwyl die ander 'n aanpassing van dieselfde grondwoord is waaruit die eerste ontstaan het, en daarmee in werklikheid 'n leenwoord is.