Doornfontein is een van die plase waarop die oudste dele van Johannesburg gebou is, onder meer die voorstede Bellevue en Bellevue-Oos, Belgravia, Berea, Bertrams, Bezuidenhoutsvallei, City and Suburban, Cleveden, Cleveland, Cyrildene, Denver, Fairview, Jeppestown, Judith's Paarl, Lorentzville, Malvern, Nieu-Doornfontein, Observatory, Troyeville, Yeoville en Doornfontein self.
In 1853 is die inspeksiekommissie deur Barend C. Viljoen, bewoner van die stuk grond bekend as "doren fontijn", versoek om die grond te inspekteer sodat 'n grondbrief aan hom uitgereik kon word. Die grond is egter eers op 20 September 1861 op sy naam getransporteer. Teen 1865 het die plaas oorgegaan in die hande van sy skoonseun en enigste erfgenaam, Frederik Jacobus Bezuidenhout. Bezuidenhout het hom op Doornfontein gevestig en sy woonhuis van modder, klip en riete gebou. Tot 1886 is nie 'n enkele gedeelte van die plaas vervreem nie.