Drekawats of Drekavac (Serwies: дрекавац, letterlik "die skreeuer"[1]), soms ook drek of drekalo genoem, is ’n figuur in die Suid-Slawiese mitologie.
’n Drekawats ontstaan uit die siel van ’n kind wat sterf sonder dat hy gedoop is.[2] Die figuur word nie altyd dieselfde beskryf nie. Een beskrywing is dat dit lank en maer is, met ’n besonder groot kop;[2] ander is dat dit soos ’n voël lyk,[3] of soos ’n hond of jakkals, maar met die bene van ’n kangaroe.[4] Soms verskyn dit in die vorm van ’n kind wat mense wat by ’n begraafplaas verbyloop, smeek om hom te doop. Die een gemeenskaplike eienskap is sy verskriklike skreeu.
’n Drekawats kan snags gesien word, veral tydens die Kerstyd en in die vroeë lente, wanneer ook ander geeste dikwels hul verskyning maak.[2] In die vorm van ’n kind voorspel dit iemand se dood, maar in die vorm van ’n dier voorspel dit ’n siekte onder beeste.[2]
Die gees word soms gebruik om kinders bang te maak. Dikwels wanneer kinders die geluid van die een of ander dier hoor, dink hulle dit is ’n drekawats en is hulle oortuig daarvan dat dit regtig bestaan. Dit kan baie doeltreffend wees om hulle te keer om te ver van die huis af weg te dwaal. In die stede het die geloof daarin egter afgeneem.