Driefase elektriese krag is 'n algemene tipe wisselstroom (WS) wat gebruik word in elektriese opwekking, elektriese transmissie en verspreiding.[1] Dit is 'n tipe veelfase stelsel wat drie geleiers gebruik, (vier saam met die opsionele neutraal terugvoer geleier) en is die algemeenste metode wat wêreldwyd gebruik word om krag oor elektriese netwerke te stuur.
Driefase krag is in die 1880's ontwikkel deur verskeie persone. In driefase krag verskil die spanning van elke geleier met 120° in fase relatief tot die ander geleiers. Omrede dit 'n wisselstroom stelsel is kan die spanning maklik met behulp van 'n verhogingstransformator verhoog word vir transmissie en ook weer verlaag word vir distribusie, wat die effektiwiteit van die stelsel verhoog.
'n Driegeleier driefase stelsel is meer ekonomies as die ekwivalente tweegeleier enkelfase stelsel met dieselfde geleier-tot-grond spanning omrede dit minder geleier materiaal (lees koper en aluminium) gebruik om 'n gegewe hoeveelheid elektrisiteit oor te dra.[2]Driefase krag word hoofsaaklik direk gebruik om groot induksiemotors, ander elektriese motors en swaar vragte van krag te voorsien. Kleiner vragte gebruik die tweegeleier, enkelfase stelsel, wat van die driefase stelsel afgelei mag word.