In die sielkunde is 'n drifteorie of drifleer[1] 'n teorie wat poog om sielkundige drifte te definieer, ontleed of te klassifiseer. 'n Drif is 'n "prikkeltoestand wat deur 'n homeostatiese steuring veroorsaak word",[2] 'n instinktiewe behoefte wat die vermoë het om 'n individu se gedrag te motiveer.[3]
Die drifteorie is gebaseer op die beginsel dat organismes met sekere sielkundige behoeftes gebore word en dat 'n negatiewe spanningstoestand geskep word wanneer daardie behoeftes nie bevredig word nie. Wanneer daar in 'n behoefte voorsien word, neem die drif af en keer die organisme terug na 'n staat van homeostase en ontspanning. Volgens die teorie is die drif geneig om mettertyd toe te neem en werk dit op 'n terugvoerbeheerstelsel, baie soos 'n termostaat.