Duitse deelname aan die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog

Die Duitse deelname aan die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog tussen 1775 en 1783 het oor die hele duur van die konflik gestrek en is deur 'n verskeidenheid politieke en ekonomiese belange bepaal. Die meerderheid persone van Duitse herkoms was gereelde soldate wat aktief aan die kant van die Britse leër by die oorlogshandelinge betrokke was nadat hulle deur hul heersers aan die Britte uitgehuur is. Na hierdie Duitse soldate is deur die Amerikaners algemeen as "Hesse" (Hessians) verwys aangesien die Landgraafskap van Hesse-Kassel die meeste soldate na Noord-Amerika gestuur het.

'n Kleiner deel het in die geledere van die Amerikaanse kontinentale leër vir die onafhanklikheid van die Britse kroon geveg. Die stryders van Duitse herkoms in George Washington se leër was grotendeels setlaars en Amerikaanse patriotte. Sommige van hulle het regstreeks vanuit hulle Duitse state na Noord-Amerika vertrek om die Amerikaanse rebellie teen die Britse kroon te ondersteun. Die bekendste militaris onder hulle was die Pruis Friedrich Wilhelm von Steuben wat die kontinentale leër as inspekteur-generaal met sukses geherorganiseer het.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne