Duiwelspiek | |
---|---|
![]() | |
Ligging | Wes-Kaap, Suid-Afrika |
Hoogte | 1 000 meter bo seevlak |
Koördinate | 33°56′S 18°23′O / 33.933°S 18.383°O |
Duiwelspiek is deel van die Tafelbergreeks in Kaapstad, Suid-Afrika. Indien die piek vanaf die hawe suidwaarts besigtig word, is die spitspunt van Duiwelspiek links van die plat tafelkruin van Tafelberg, waarna (regs en wes van Tafelberg) die koepel van Leeukop en dan Seinheuwel volg.
Die oorspronklike Kaapstadse nedersetting (wat deesdae die stadskom genoem word) lê in die natuurlike amfiteater wat deur hierdie natuurverskynsels gevorm word.
Duiwelspiek, soos die res van hierdie heuwels, is gevorm uit Tafelbergsandsteen. Daaronder lê graniet en skalie, maar hierdie materiale word nie aan Duiwelspiek se hange aangetref nie.
Duiwelspiek is 1 000 meter hoog, laer as Tafelberg se 1 087 meter. Die plantegroei aan die hange is tipiese Kaapse fynbos.
Aan die suidekant van Duiwelspiek is die Rhodes-gedenkteken, 'n aandenking aan Cecil Rhodes, asook die Universiteit van Kaapstad wat oor die suidelike voorstede van Kaapstad uitkyk: oor die Kaapse Vlakte na Stellenbosch, Somerset-Wes en die Hottentots-Hollandberge in die verte.