Die edele barbaar of edele woesteling is 'n ideale beeld van die "natuurmens" wat nie deur die beskawing bederf is nie. Die begrip gee uiting aan die idee dat die mens sonder die bande van die beskawing inherent goed is. Tot vandag toe is dit 'n gewilde tema van kultuurkritiese skrywers. In die moderne volkekunde is die konsep van die edele barbaar lankal verouderd.[2]
Ná die Europese ontdekking en verowering van die Amerikas het die idee weer aanklank gevind, en dit het veral gestalte aangeneem in die epiese La Araucana (omstreeks 1570) deur Alonso de Ercilla y Zúñiga. Honderd jaar later het John Dryden weer die tema aangepak. In die 18de eeu was die filosoof Jean-Jacques Rousseau een van die prominente voorstanders daarvan, en veral in die romantiek het die idee baie volgelinge gehad.
Voorbeelde kan in die Bybel gevind word, in die toestand van onskuld in die tuin van Eden voor die Sondeval, asook in die Griekse mites.