'n Elogium (Latyns, meervoud: elogia) was 'n inskripsie ter ere van 'n oorledene wat geplaas is op grafstene, graftombes, beelde van voorouers en standbeelde in Antieke Rome.[1][2] Die elogia is somtyds sinoniem met die tituli, die identifiserende inskripsies op wasbeelde van oorlede voorouers wat ten toon gestel is in die atrium van die domus van adellike families, maar dit is korter as die laudatio funebris, die grafrede. Die teks is oorspronklik geskryf in Saturniese vers, maar later kon dit in heksameter, jambiese heksameter, koepletvorm of in prosavorm wees. Kenmerkend van die elogium is die nominatief wat gebruik word vir die naam van die oorledene en nie, soos die geval was met latere grafliteratuur, die datief.
In die keiserlike tydperk het die elogium 'n letterkundige genre geword: tekste is versamel deur Marcus Terentius Varro en Titus Pomponius Atticus en geskrewe elogia oor beroemde oorlede persone was 'n gewilde retoriese oefening.[3] Die elogia op die standbeelde van die Tempel van Mars Ultor by die Forum van Augustus is blykbaar geskryf deur Augustus.[4]