Die Endless is 'n gesin van kosmiese wesens wat in die Amerikaanse strokiesboeke verskyn wat deur DC Comics gepubliseer word. Die lede van die gesin, van oud tot jonk, is: Destiny, Death, Dream, Destruction, Desire, Despair en Delirium.
Die karakters van die Endless is deur Neil Gaiman geskep en het die eerste keer in die strokiesboekreeks The Sandman (1989-'96) verskyn. Hulle verteenwoordig natuurlike kragte in die DC Universe. Hulle word uitgebeeld as van die magtigste wesens in die wêreld van dié karakters[1] en verskil in dié heelal van gode, wat deur sterflikes se geloof geskep is. Die karakter Dream is die hoofkarakter van The Sandman-reeks, maar al die Endless-karakters speel groot rolle.
Die Endless is 'n disfunksionele gesin van sewe sibbes. Hulle verskyn in verskillende vorme, maar word meestal uitgebeeld met 'n wit vel en swart hare, met die uitsondering van die rooikoppe Delirium en Destruction. Hulle voorkoms verander dikwels om te voldoen aan die verwagtings van dié wat hulle ontmoet of die situasie waarin hulle is.[2]